OUPA DRIES SKRYF
Posted by chrisbester on December 5, 2008
Oupa Dries Skryf:
Liewe Maats van Noordskool – 5 Desember 2008
Nog ‘n jaar is verby met al sy hoogtepunte en laagtepunte. Vir sommige van julle was dit ‘n top jaar, maar vir ander was dit maar so-so. Julle ouers is baie keer daarop ingestel om ‘n goeie eindresultaat te sien en beoordeel julle, die onderwyser en die skool dikwels daarvolgens. Soms vergeet hulle van al die goggas wat julle terug hou om te leer. Oupa en Ouma weet dis vasbyt en waardeer dat julle sterk gestaan het om van 2008 ‘n sukses te maak. Dis mooi so !!!
As pappa en mamma belangstel in jou prestasies (Ongeag hoe goed dit is) is dit lekker en jy kry moed en die standaard van jou werk verhoog. Onthou (Matthéüs 25:15-28) elkeen woeker met die talente waaroor hy beskik.)
-Hou so aan Pappas en Mammas !!!
Elkeen van julle het sekere vermoëns geërf en ‘n klomp vaardighede aangeleer. Hiermee moet jy die lewe daarbuite aandurf. Soms ontvang jy ‘n hupstootjie en soms ‘n terugslag, maar die tyd stap aan en so jou grootwordproses.
Graad sewes, Nou is julle die GROOT kinders in die skool. Surprise, surprise! Volgende jaar begin julle weer voor as die kleintjies in die Hoërskool. Julle het nou al genoeg oefeninge gehad om voor te begin. Doen dit met waardigheid en vasberadenheid. Wys hulle van watter stoffasie Noordskool se kinders gemaak is. Werk hard en jy sal beloon word. Moet nooit vergeet waar jy vandaan kom nie!!
Sterkte met die Nuwe Jaar!
Oupa Dries



